Noord-Korea speel ’n blufspel

Die Internasionale Atoom Energie Agentskap sê daar is geen teken waarneembaar dat die kommunistiese diktator van Noord-Korea enige kernwapen aktiwiteite verminder of gestaak het nie.

Die agentskap se woordvoerder sê die bevinding is uiters kommerwekkend in die lig van die opspraakwekkende ontmoeting tussen Kim Jong-Un en President Donald Trump in Singapoer waar hulle tot ’n redelike ooreenkoms gekom het, maar geen tydskaal op alles gesit het nie.

Kim Jon-Un het ook twee keer die president van Suid-Korea ontmoet, en in al die gevalle het hy duidelik te kenne gegee dat hy bereid is om die kernprogram te stop en te streef na ’n bedeling van ’n kernwapen vrye Korea.

Kort na die ontmoeting tussen Trump en Kim het die Amerikaanse president gese die kernwapen krisis van Noord-Korea is “opgelos”, maar kenners sê die wereld moet kennis neem van die onbetroubaarheid van Kim Jong-Un wat oor jare getoon het dat hy nie sy woord gestand doen nie.

Intussen het die vermoede ontstaan dat Rusland betrokke is by die kernwapen program van Noord-Korea aangesien die vordering wat gemaak is met die ontwikkeling van langafstand ballistiese missiele, ’n aanduiding is dat hulp van elders bekom is.

Waarnemers wys daarop dat Kim Jong-Un ook gesê het sy kernwapen toetsprogram is beëindig, en menige het dit verkeerd vertolk asof hy gesê het sy kernwapen program is gestop.