Motorrubriek – Volvo XC60 T6 AWD R-DESIGN

Volvo was en is bekend vir hulle betroubaarheid en veiligheid. Die nuutste Volvo XC60 gaan dus geen uitsondering wees nie en dit beloof om ‘n heel “bruikbare” voertuig te wees.

Met die eerste oogopslag sien ‘n mens die sierlike lyne aan die buitekant raak. Die agterligte wat om die hoeke van die voertuig gaan en die dak wat die indruk laat dat die helling na agter die voertuig eintlik nader na die pad oppervlakte aftrek. Die vyf speek, 21 duim, lae profiel bande op die allooi wielnawe gee ‘n besonderse aantrekkingskrag aan die voertuig en waar daar beweeg word, trek dit aandag. Daarvoor sorg die R-Design bykomende afwerking. Glans swart afwerking van die sierrooster, breër uitlaatpype aan die agterkant en die agterligte wat aan die agterkant ‘n horisontale profiel het.

Die binne-afwerking is nie agterweë gelaat nie. Die bagasie en beenruimte is meer as die van die XC90 en dit op ‘n onderstel wat 19 mm korter is. Volvo se Sensus aanraak skerm maak dit baie maklik om die verskillende funksies te gebruik en om dit maksimum te geniet. Radio en lugversorger sorg vir gerief en ontspanning. Die sitplekke is so effe opgestop met verwarming wanneer nodig en met die verskillende verstellings is dit moontlik om ‘n “sitkamer” gemaklike posisie in te neem – dit is veral opmerklik wanneer die lang pad aangedurf word wanneer hierdie gemak ‘n mens bederf. Die permanente vierwiel aandrywing sorg vir uitsondelike padgedrag. Die stuurwiel is met leerbekleedsel oorgetrek en pas gemaklik in die hand met al die verskillende skakelaars binne maklike bereik..

Wanneer die kragbron onder oë geneem word besef ‘n mens daar is goeie huiswerk gedoen want die vier silinder, inlyn se reaksie is alles behalwe stadig. Daarvoor sorg direkte brandstof inspuiting stelsel met die hulp van die turbo aanjaer dat die maksimum krag 235 kW is en die wringkrag is 400 Nm met die rooilyn op die toereteller wat by 6500 o.p.m. begin. Versnelling volgens toetse wat uitgevoer is toon dat van 0 tot 100 km/u neem dit nagenoeg 6,5 sekondes met ‘n maksimum snelheid van 230 km/u volgens die vervaardiger. Die outomatiese ratkas skakel seepglad oor en dit is bykans onmoontlik om agter te kom wanneer dit oorskakel.

Hierdie is ‘n motor vir die fynproewer en sy meerdere sal moeilik teengekom word. So gaan neem dit gerus vir ‘n toetsrit en vergewis uself van die kwaliteite.