Motorrubriek – Nissan Micra Visia 900t

Vir 2018 het Nissan drie Micra modelle bekendgestel naamlik die Visia, Acenta en die Accenta plus.

Die Visia is die basiese model maar het nogtans elektries beheerde voor vensters. Hierdie is die ideale motor vir ‘n eerste aankoop motor of vir ‘n tweede motor vir die gesin. Dit gebruik dieselfde onderstel as die Renault Clio en dit help om ontwerp en boukoste so laag as moontlik te hou.

Die 898 kub. sentimeter, drie silinder inlyn, 12 klep, turbo aangejaagde petrol kragbron kwyt dit baie goed van sy taak. Wanneer die krag “rustig” aangewend word reageer dit rustig maar wanneer nodig kan die 66 kW krag tot by 5500 o.p.m. aangewend word en die wringkrag van 140 Nm is by 2250 o.p.m. beskikbaar. Teen 120km/u is die toere 3100 o.p.m. en wanneer die toere bokant 2500 gehou word, reageer dit goed op brandstof pedaal insette. ‘n Vyfspoed, hand ratkas word in al die modelle gebruik en die krag oorbrenging geskied na die voorwiele. Volgens die vervaardiger versnel dit van 0 tot 100 km/u in 12,1 sekondes en die brandstof verbruik is ‘n “gawe” 6,8l/100 km.

Die Visia gebruik 15 duim staal wielnawe en die buite spiëels is elektries beheer en die flikkerligte se aanduiding liggie is in die onderkant van dit gemonteer. LED hoofligte word outomaties aangeskakel wanneer die motor in beweging kom en is ‘n handige hulpmiddel vir mede padgebruikers om aan te dui dat daar ‘n motor aan die kom is.

Die stuurwiel is hoogte en afstand verstelbaar met die nodige beheer skakelaars daarop gemonteer. Al die maklik leesbare instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en ‘n hand beheerde lugversorger sorg vir verdere gerief terwyl ‘n twee luidspreker radio sorg vir vermaak. Die hoofligte skakel outomaties aan en ses lugsakke help om beserings te beperk ten tye van ‘n ongeluk. ‘n Snelheidsbeheerder, wanneer aangeskakel sorg dat daar binne die wet beweeg kan word en ABS remme met ESP hulp sorg dat ‘n mens met veiligheid tot stilstand kan kom. Op die voorwiele word skywe gebruik en op die agter wiele word trommels gebruik. Aan die voorkant is McPherson stutte en agter word ‘n wringstaaf vir die suspensie gebruik.

Die agterste passasiers het genoeg beenspasie beskikbaar terwyl die bestuurder en sy mede passasier se sitplekke verstelbaar is. Die rathefboom pas gemaklik in die linkerhand en is maklik bereikbaar.

Vir daaglikse gebruik kan die bagasiebak 300 liter bagasie neem en wanneer nodig kan daar ‘n verdere 360 liter bo die bagasiebak skerm gepak word.

Hierdie is ‘n praktiese maar bruikbare motor en wanneer ‘n aankooplys opgestel word, kan dit gerus op die lys geplaas word vir oorweging.