Meksiko slaan toe op dwelm laboratorium

Die polisie en veiligheidsmagte van Meksiko het blitsvinnig gereageer op ’n wenk wat ontvang is, en toegeslaan op ’n ondergrondse dwelm laboratorium.

Die laboratorium is in die berge naby die noordwestelike kusgebied en blitsvinnige optrede met behulp van Amerikaanse beamptes het tot die ontdekking gelei.

Die Meksikaanse vloot se forensiese wetenskaplikes het ook bygedra om die enorme groot dwelm opslagplek se werksaamhede uit te vind.

Meer as 50 ton methamphetamine is deur die veiligheidsbeamptes vernietig by die ondergrondse fabriek waar die dwelms vervaardig word.

’n Regeringswoordvoerder sê die optrede is deel van die nuwe regering se doelwit om baie sterk op te tree teen dwelmverwante projekte en bedrywe.

Optrede teen die dwelm kartel word beoog, en deel daarvan is om hulle bankrekenings te vries en op enige buitelandse beleggings beslag te lê.

Die regering sê die dwelmhandelaars en onwettige vervaardigers se grootste aktiwiteite sal aan bande gelê word as hulle finansieel gebreek word.

Alles moontlik word glo gedoen om die dwelmmiddels van die strate weg te hou, en veiligheidsmagte is deurlopend op die uitkyk vir moontlike verdagtes, het die woordvoerder gesê.