Lief jou, haat jou

Die delikaatheid en verskil in benadering tussen koalisievennote het weer geblyk uit twee munisipaliteite waar gepoog is om burgemeesters te verwyder.

In Pretoria het die ANC en EFF probeer om die DA se burgemeester, Solly Msimanga, te verwyder.

Die VF Plus, wat deel is van die koalisie, is stert in die lug en spog daarmee dat die partye in die koalisieregering, die VF Plus, DA, ACDP en Cope, “in eenheid die aanslae van die nuwe korrupsie-alliansie tussen die ANC en die EFF effektief afgeweer het en sodoende ʼn sterk boodskap uitgestuur het oor soortgelyke opportunisme in die toekoms,” soos adv. Anton Alberts dit stel.

Daarteenoor het die VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, houe geplant na die DA in die Kimberley se munisipaliteit, waar die DA nie van die ANC burgemeester ontslae kon raak nie as gevolg van prosedure foute, wat daartoe gelei het dat die hof gelas het dat die burgemeester sy pos behou en dat die DA die regskoste moet betaal.

Die VF Plus sê hy het vanuit die staanspoor gesê dié vergadering was onreëlmatig en het daarom nie aan die stemming deelgeneem nie. “Indien die DA ag geslaan het op die raad van die VF Plus, was onnodige regskoste waarvoor die belastingbetaler moet pa staan, verhoed en sou die munisipaliteit ontslae gewees het van Matika,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald gaan nog verder en sê die aantal kere wat die DA oor die laaste maande in die hof tereggewys is, weerspieël nie ‘n party wat gereed is om te regeer of selfs met die taak van amptelike opposisie vertrou te word nie.

In die een munisipaliteit is hulle lief vir mekaar, en in die ander munisipaliteit heers die teenoorgestelde sentiment, is die gevolgtrekking van ‘n politieke ontleder.