Koreaanse families tydelik herenig

Die afgelope naweek het families mekaar ontmoet wat vir meer as 59 jaar mekaar nooit gesien het nie weens die verdeeldheid wat tussen die twee land ontstaan het na afloop van ’n bloedige oorlog.

Die Koreaanse Oorlog wat in 1950 uitgebreek en tot 1953 geduur het, het nie net Korea in twee afsonderlike state verdeel nie, maar het duisende families verdeel wat mekaar nooit weer gesien het nie.

Die twee lande se leiers het intussen ooreengekom om ’n geleentheid te bied waar sulke mense mekaar weer kon sien, en alhoewel net ’n klein persentasie van gevalle geakkommodeer kon word, het dit uitgeloop op ’n dag van baie emosie toe mense mekaar na 60 jaar weer kon sien.

Die mense van Suid-Korea is na die noordelike staat se vakansie park geneem waar hulle vir ure lank hul geliefdes kon sien.

Roerende gevalle is op film vasgevang, en die trane van ’n moeder wat haar seun na 65 jaar weer kon omhels, was van die gevalle wat onvergeetlik bly.

Die kommunistiese Noorde het oor die jare gesorg dat die mense nie na die Suide kon ontsnap nie alhoewel daar in die jongste verlede wel ’n paar suksesvolle ontsnappings was.

Die twee state verkeer tegnies nog steeds in ’n staat van oorlog omdat daar nooit ’n vredesverdrag gesluit is nie, maar die kommunistiese diktator van Noord-Korea, Kim Jong-Un, en president Moon Jae-in het in beginsel onderneem om met tyd aandag aan die saak te gee.

Die twee lande het reeds in twee groot internasionale sportgeleenthede as een land, Korea, deelgeneem in ’n poging om nader aan mekaar te kom, maar kenners reken die ideologiese verskille is so diep dat eenwording baie moeilik verkry sal word.