Hongarye en Italië span saam

Hongarye en Italië het na deeglike samesprekings gevoer is, gesê hulle beplan die daarstelling van ’n alliansie om die koers van die Europese Unie (EU) se optrede met immigrante te verander.

Beide lande het onlangs die inname van onwettige immigrante in hulle lande geweier tot groot ontsteltenis van die Duitse kanselier wat steeds probeer om meer immigrante in Europa toe te laat.

Eerste minister Viktor Orban van Hongarye en die Italiaanse minister van binnelandse sake, Matteo Salvini, het geen geheim gemaak van hulle voorneme tydens hul ontmoeting nie.

Die twee leiers het ’n beroep op konserwatiewes in Europa gedoen om saam te kom in ’n Pan-Europese Anti-immigrante alliansie om die EU te stuit in sy beleid om so baie onwettige immigrante in Europa toe te laat.

Politieke ontleders sê die samewerking wat premier Orban kan verwag van die nasionalistiese minister van Italië, kan lei tot ’n nuwe bedeling in Europa wat vêrreikende gevolge kan inhou vir leiers soos Merkel van Duitsland en Macron van Frankryk.

Met Marine Le Pen van Frankryk, en kanselier Sebastian Kurz van Oostenryk in hulle geledere, kan ’n algehele ommeswaai in die Europese Unie bewerkstellig word.

Waarnemers sê met die Europese Volksparty wat die grootste verteenwoordiging het in die Europese Parlement, kan die nasionaliste uiteindelik die oorhand kry.

Foto – Minister Matteo Salvini en premier Orban