Grondgryp gaan markte skud

Cyril Ramaphosa se verklaring op 1 Augustus 2018 na ʼn ANC NUK vergadering dat die ANC verandering aan Grondwet gaan deurvoer gaan ʼn ekonomiese ramp vir Suid-Afrika wees. Dit gaan direk daartoe bydra dat armoede, werkskepping en ekonomiese welvaart gaan versleg, waarsku TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes (foto).

Mnr. Meintjes sê dit is onbegryplik dat die ANC se NUK glo dat verandering aan die grondwet met betrekking tot onteiening sonder vergoeding ʼn beter toekoms vir almal in die RSA gaan skep. “Dit is eerder ʼn wanhopige poging van ʼn korrupte regime om sy ondersteuners se eise na jare van valse politieke beloftes te ondervang. Die ANC se politieke korrupsie en ekonomiese plundering van die RSA se finansiële bates die afgelope 24 jaar is die hoofoorsaak vir die ekonomiese verval van die RSA.

“Die regering is reeds die afgelope 10 jaar by verskeie geleenthede deur internasionale finansiële rolspelers gewaarsku dat sy beleid nie ekonomiese groei bevorder nie. Die nuutste waarskuwing kom van die Internasionale Monetêre Fonds wat na ʼn besoek aan die RSA gedurende Mei en Junie gewaarsku het dat grondonteiening sonder vergoeding buitelandse beleggers beslis gaan afskrik.

“Dit het praktyk in Afrika geword dat Regerings se korrupsie tot ekonomiese verval en wanorde lei. Suid-Afrika is nou finaal op hierdie pad geplaas as gevolg van nog ʼn regime wat ekonomiese plundering van die nasionale ekonomie as ʼn groter prioriteit beskou as goeie regering,” sê mnr. Meintjes.

“TLU SA verwerp die besluit ten sterkste en sal steeds voortgaan om alle middele aan te wend om die eiendomsreg van produserende kommersiële boere in die RSA te beskerm. Dit het tyd geraak dat rasioneel denkende mense wat wil seker maak dat die regte dinge gedoen word om die ekonomie te laat groei bymekaar moet kom en kragte saamsnoer om hierdie vernietigende pad vir Suid-Afrika wat die ANC inslaan, te stuit.”