Gautrein winste na buiteland

Die Gautrein is reeds vir enkele dae kruppel met slegs gedeeltelike dienste wat gelewer word as gevolg van ‘n staking van personeel wat eise ver bo die inflasiekoers het.

Intussen word daar geëis dat die Gautreinse bestuursagentskap, Bombela, moet verduidelik waarom hy aan die United National Transport Union (Untu) gesê het dat Gautrein se winste aan ‘n Franse maatskappy gaan. Hierdie beweringe word nou deur Untu in die media gemaak.

VF Plus sê hy sien hierdie bewering as uiters ontstellend en skokkend en Bombela moet verduidelik waarom sy winste glo landuit gestuur word en waarom dit nie terug na Bombela gekanaliseer word nie.

Die Gautrein-bestuursagentskap ontvang jaarliks ‘n stewige bedrag geld van Gauteng se provinsiale regering om sy werksaamhede en dienste te kan verrig. Hierdie entiteit het vir die 2018/19-finansiële jaar 25% van Gauteng se departement van vervoer se totale begroting van R7,6 miljard ontvang. Dit kom neer op ‘n bedrag van sowat R2 miljard.

Die departement van vervoer in Gauteng kan dit nie bekostig om geld wat jaarliks aan Gautrein gegee word, te verloor nie. Met die departement se huidige begroting van R7,6 miljard kan hy nie eens die paaie en sinkgate herstel, nuwe paaie bou of in stand hou nie, sê VF Plus.