Franse energie reus onttrek uit Iran

Die Franse energie reus, Total, het besluit om te onttrek uit Iran nadat hy verlede jaar ’n ooreenkoms aangegaan het van $4,8 miljard in die land se olievelde waar ’n gas projek van stapel gestuur is.

Total het die besluit geneem nadat die VSA gedreig het om strafmaatreëls in te stel teen enige sakeonderneming wat steeds met Iran sake doen.

Total is Frankryk se grootste energie maatskappy, en het pas aangekondig dat hy onttrek uit die gas projek.

Die Franse maatskappy is en van die hoofrol instansies wat hulp verleen het op tegnologiese gebied om die gas projek wat as die grootste ter wêreld beskou word, te ontwikkel saam met Iran en Qatar.

Die onttrekking van Total is ’n harde slag wat Iran toegedien word, en dit kan lank neem voor ’n nuwe maatskappy gevind gaan word wat nie huiwerig is om die dreigement van Amerika te trotseer nie.

Die spanning tussen Amerika en Iran is veroorsaak nadat president Trump besluit het om die VSA te onttrek uit die kernverdrag wat Iran en Barack Obama gesluit het.

Trump het uit die ooreenkoms onttrek nadat gevind is dat Iran steeds kernwapens kan ontwikkel te midde van die akkoord wat “vol skuiwergate” is.

Finansiële ontleders sê die gebeure toon die geweldige sterk invloed wat president Donald Trump uitoefen op die wêreld politiek en veral op finansiële gebied.