Deense landbou stry teen droogte

Die ongekende droogte wat groot dele van Europa vanjaar geknel het, het ook die landbouers van Denemarke in ’n wurggreep vasgevang.

Skandinawië is nie daarvoor bekend dat droogtes die landbou knel nie, maar vanjaar is dit nie net ’n uitsonderlike situasie nie, maar ook ’n droogtetyd wat gepaardgaan met langdurige hitte en warm wind toestande.

Jaarliks word die grasvelde en oorblyfsels van die lande na die oestyd, gebaal en sorgvuldig gestoor om die lang wintermaande te voorsien as voer vir hulle diere.

Vanjaar moes hulle die bietjie materiaal waaroor hulle beskik, begin voer vir die vee, wat ’n donker winterseisoen voorspel.

Die boere kon ook nie goeie oeste verwag nie, en menige boer se lande het onbewerk gebly en die Minister van Omgewing en Voedsel Sake het opgemerk dat die landbouers nie kon saai nie want dit help nie om saad op die harde grond wat soos konkreet is, te saai nie.

Gebaalde gras en hooi is kwalik beskikbaar, en dit wat wel te koop is, se prys is bykans onbetaalbaar duur, en boer voer gebaalde voerl in van Ysland wat die droogte vrygespring het.

Die Deense boere sê hulle verloor vanjaar meer as een miljard euro weens die droogte, en toe die hewige reënstorms verlede week uitsak, word hulle skade deur verspoelings nog groter.

Alhoewel die ren verwelkom is, sê kenners dit is reeds te laat om te plant aangesien die winter eersdaags begin, en die groeiseisoen van die grasvelde ook verby is.

Noorweë sukkel ook met die droogte en het kontrakte aangegaan in Ysland om 35 000 ton voer te lewer wat met  groot vragmotors vervoer word.

Weerkundiges sê dit is die ergste droogte wat Skandinawiese lande nog gehad het in die afgelope 70 jaar.