Aussie premier word verslaan

Die Liberale Party in Australië het in ’n tweede stemming wat verlede Vrydag gehou is, premier Malcolm Turnbull vervang deur Scott Morison in sy plek aan te wys.

Turnbull was gedwing om sy bedanking in te dien na ’n week van struwelinge in die parlementêre geledere van die regerende Liberale Party.

Media berigte lui dat die meerderheid parlementslede van die Liberale Party ten gunste is van ’n verandering in die premierskap en die party se leierskap.

’n Taai stryd het egter geduur tussen die nuutverkose premier, Scott Morrison en die minister van binnelandse sake, Peter Dutton.

Morrison het uiteindelik met ’n stemming van 45 teen 40 die stryd gewen om nou Australië se sesde premier te word wat die afgelope elf jaar gekies is.

Morrison wat ’n ondersteuner van Turnbull was, sal die Liberale Party blykbaar nie na ’n meer konserwatiewe beleid lei nie, en vrae ontstaan wat hy sal doen oor die belangrikste politieke kwessie wat handel oor die toelating van onwettige immigrante.

Foto – Scott Morrison