Agri SA verbind tot landbouhervorming

Die uitvoerende hoof van Agri SA, Omri van Zyl (foto), het ‘n klomp boere die harnas in gejaag met sy hernude verbintenis tot grondhervorming.

Alhoewel hy wel gesê het Agri SA bly gekant teen onteiening sonder vergoeding, dié organisasie wel ‘n plan het om “vinnige en volhoubare landbouhervorming te verseker”.  Wat dié plan egter is, het hy nie gesê nie.

Boere is bekommerd oor die plan, want dit gaan noodwendig beteken dat van hulle grond afgestaan moet word aan nuwe swart boere, en daarmee erken hy per implikasie dat boere die grond onregmatig besit. Dat sy plan “volhoubare landbouhervorming” insluit, beteken ‘n groot terugslag vir die beginsel van die vryemark, want as grond dan eenmaal in swart hande is, sal dit om rasgedrewe redes in swart hande moet bly.

Agri SA se president, Dan Kriek, is verlede week deur TLU SA en Afasa tereg gewys nadat hy eensydig bepaalde uitsprake namens die landbouforum, Asuf, gemaak het.

Tydens die grondberaad wat Agri SA en Landbouweekblad naby Warmbad aangebied het, het Kriek ook, voor adjunkpresident Mabuza, roerend verklaar dat die ongelykhede van die verlede reggestel moet word en die misdade van die verlede erken moet word. Talle boere was nie gemaklik met sy uitspraak nie, aangesien dit daarop kan neerkom dat hy erken dat boere moontlik grond gesteel het.