Agri SA kan nie namens alle boere praat nie

Skynbaar gaan Agri SA vandag met die ANC se sogenaamde top ses vergader om oplossings of duidelikheid te kry oor die kwessie van onteiening sonder vergoeding.

Talle boere is egter ongemaklik daarmee dat Agri SA homself as verteenwoordiger van alle boere kan aanbied by die ANC. In die lig daarvan dat die minister van landbou onlangs vir Agri SA in die openbaar geloof het vir hulle distansiëring van die lys oor plase wat moontlik deur die staat gesteel kan word, is daar kommer dat Agri SA een of ander kompromis ooreenkoms met die ANC kan aangaan, wat die regering meer sal bevoordeel as die landbou gemeenskap.

In ‘n verklaring sê TLU SA se Noordstreek dat hy dit reeds duidelik op rekord gestel het dat geen boer sy grond gesteel het nie, en dat grondeienaarskap regmatig bekom is en daarom wettig is. Om daardie rede sal boere hulle eiendom met alle middele tot hulle beskikking beskerm.

Hulle het ook kennis geneem dat daar beplan word om gesprek te voer met die ANC se Top Ses, oor verskeie landbousake, ten einde bepaalde oplossings te kry.

“Ons wil dit duidelik stel dat TLU SA Noord niemand ‘n ope mandaat gegee het of sal gee om te gaan onderhandel ten einde bepaalde kompromis ooreenkomste te bereik nie,” sê TLU SA Noord se voorsitter, mnr. Henk van de Graaf.

“Die enigste wat mandaat het om namens die lede van TLU SA Noord te praat, is die nasionale topstruktuur van TLU SA, aangesien hulle sterk staan op die beginsel van eiendomsreg, die vryemarkstelsel en hulle onomwonde uitgespreek het teen onteiening sonder vergoeding, of teen vergoeding wat nie markverwant is nie. TLU SA Noord staan vas op hierdie beginsels, en het slegs vertroue in leiers wat onomwonde hierdie beginsels sal verdedig,” sê mnr. Van de Graaf.