Aftrede veroorsaak onmin in Rusland

Die vroeëre aankondiging deur die Russiese owerheid dat die aftree ouderdom binne enkele jare met agt jaar gaan verhoog, het die Russiese werkers behoorlik opstandig gemaak.

Die ongelukkigheid word landswyd ervaar en president Vladimir Poetin moes self ingryp en probeer om die mense tot kalmte te maan.

Aanvanklik het die owerheid gepoog om die president te beskerm teen die verwagte kritiek, maar met sy toetrede om kalmte te probeer kry, het hy eienaarskap aanvaar en aangekondig dat vroue se aftree ouderdom slegs met 5 jaar verleng word.

Dit het egter nie die ontevredenheid onder werkers laat bedaar nie, en veral in sekere stede waar die lugbesoedeling baie hoog is, is daar woede omdat statistieke toon dat die mense kwalik die ouderdom van 55 jaar bereik, en dus nooit by aftrede kom nie.

Die president het in ’n TV uitsending die volk tot kalmte gemaan en gewys op die noodsaaklikheid om die nuwe aftree ouderdom in te stel volgens die hervormingsplan wat vroeër vanjaar bekendgemaak is.

Die president wys daarop dat die aanpassing nou gemaak moet word omdat dit ’n algemeen aanvaarde feit is dat mense al hoe langer leef, en daarom hulle aftree ouderdom daarby moet aanpas om ook die bestaande kundigheid te behou vir so lank as moontlik.

Poetin sê die pensioen skema moet ook versterk word deur mense vir ’n langer tyd te laat bydra daartoe, maar werkers sê die regering wil daarmee seker maak dat mense doodgaan voor hulle kwalifiseer om af te tree.