Weste kritiseer Trump-Poetin ontmoeting

Die ontmoeting tussen president Donald Trump van Amerika met sy Russiese eweknie, Vladimir Poetin, het wye reaksie regoor die wêreld ontlok.

Die twee leiers wat mekaar in Helsinki, Finland ontmoet het, is die eerste amptelike ontmoeting tussen die twee leiers wat die grootste gedeelte van die tyd alleen samesprekings gevoer het.

Wye kritiek is gelewer teen president Trump wat ’n bedekte beskuldiging gerig het tot sy voorgangers wat na sy mening die verhoudinge versuur het met Rusland.

’n Voormalige FBI-hoof het sovêr gegaan om te sê dat die Russiese president die Amerikaner “in sy sak het”, maar politieke ontleders meen dit is ’n gewaagde uitspraak omdat niemand weet wat die twee leiers vir mekaar gesê het nie.

Wêreldleiers uit die G7 lande moes vroeër kennis neem van president Trump se standpunt dat Rusland weer toegelaat moet word in die vergadering, wat uiteindelik gelei het tot die samesprekings tussen die twee lande.

Die liberale Demokratiese Party in Amerika se woordvoerders het egter die grootste bedenkinge gehad oor die ontmoeting, en Donald Trump afgemaak as ’n junior teen die Russiese president.

Helsinki het ook betogings gehad teen beide die leiers, en Europese koerante het sovêr gegaan as om te beweer dat Europa die Amerikaanse president minder vertrou as vir Poetin.

Gematigde meningsvormers sê egter dat die ontmoeting ’n groot bydrae lewer tot wêreldvrede en die weg gebaan het vir beter betrekkinge tussen Rusland en die VSA.