Wedywering in ruimtevaart begin

Dit is nie net die ruimtevaart tegnoloog Elon Musk wat mense teen betaling deur die ruimte wil neem nie, want nou het die oprigter van Amazon ook aangekondig dat hy sulke planne het.

Amazon se oprigter, Jeff Bezos, het die afgelope naweek gesê hy beoog om reeds in 2019 te begin met die verkoop van ruimtereise aan die publiek.

Reisigers sal glo ’n toer deur die ruimte kan neem teen bedrae wat begin met $200 000 en langer reise sal opwaarts aangepas word.

Met sy “Blue Origen” wil Jeff Bezos nie alleen ruimtevaart reise begin nie, maar ook potensiële ruimtevaart kliënte meer bewus maak van die nuwe bedryf  wat binne enkele jare klaarblyklik ’n algemene praktyk sal word.

Ingenieurs is tans besig om die moontlikhede van die hergebruik van vuurpyle te ondersoek, terwyl die Elon Musk span reeds oor die vermoë beskik.

Kenners is dit eens dat die nuwigheid in die toerisme ook dui op ’n sterk mededinging wat verwag kan word, terwyl die kliënt se opsies oor wie sy beste ruimtevaart deskundiges sal wees, met tyd verder sal vergroot.

Die oprigter van Amazon het egter nie ’n bekommernis oor fondse nie, aangesien sy $110 miljard sekerlik voldoende sal wees om sulke nuwighede aan te pak.

Foto – Blue Origen vuurpyl