Vyftig bosbrande in Swede

Die bosbrande in Swede het vermeerder na meer as vyftig wat versprei is oor groot gebiede in die land en wat nou met behulp van Italiaanse vliegtuie en hulp uit Noorweë bestry moet word.

’n Woordvoerder van die Sweedse brandbestryding sê sommige van die bosbrande is so hewig dat dit nie gesmoor kan word nie.

Binne 24 uur het tien nuwe brande ontstaan wat die westelike deel van die land in ’n vuurbal verander het en met brandslaners, brandweer voertuie en vliegtuie bestry word.

Die hoof van Burgerlike Verdediging, Dan Eliasson, sê die brande is die ergste wat Swede in die afgelope dekade gehad het, en dit is ’n moeilike taak om die vernietigende vlamme onder beheer te kry.

Hy sê die brande het nou te veel geword vir diegene wat dit tans bestry, en met die vooruitsig van geen reën nie, sal hulp van buite Swede opreg waardeer word.

Die brande het blykbaar ontstaan weens die ongekende hitte in die land, en die vooruitsigte is dat die hittegolf nog gaan voortduur in die volgende week.