VSA regbank kan regs swaai

President Donald Trump van Amerika beskik oor die mag om die Amerikaanse regbank ’n regse meerderheid van regters te gee na die onlangse bedanking van Anthony Kennedy.

Die aanstelling van ’n nuwe lid in die hooggeregshof is nou in die hande van die president, en die verwagting is dat hy sal seker maak dat dit ’n Republikein is.

Meningsvormers sê die bestaande era het tot ’n einde gekom met Kennedy se uittrede, en president Trump is nou in die posisie om te verseker dat die regbank vir baie jare ’n meerderheid van konserwatiewe regters het.

Regter in die VSA word deur die president aangestel en dien lewenslank tensy hulle besluit om self uit te tree.

Alhoewel regters optree binne die landswette, is daar eenstemmigheid dat hulle lewensbeskoulike uitkyk wel ’n rol kan speel in die hofsaal.

Toe Barack Obama in 2016, kort voor die presidentsverkiesing, ’n nuwe regter wou aanstel in plek van die konserwatiewe Antonin Scalia wat onverwags te sterwe gekom het, het die Republikeine wat ’n meerderheid is in die Amerikaanse Senaat ’n stokkie in die wiel gedruk.

’n Konserwatiewe regter, Neil Gorsuch, is eers in 2017 deur president Trump aangestel.