VSA oorweeg verdere belasting teen Sjina

Die president van Amerika, Donald Trump, oorweeg die moontlikheid om die belasting op invoere uit Sjina nog verder te verhoog.

Oorweging word gegee aan die moontlikheid om invoerbelasting op alle goedere uit Sjina in te stel, wat beteken dat dit van toepassing sal wees op goedere ter waarde van sowat $500 miljard per jaar.

Die president het aan die media gesê die huidige bedeling waarin Sjina die grootste voordeel pluk is onregverdig, en alhoewel hy baie van die Sjinese president hou as persoon, kan hy nie toelaat dat Amerika ’n sy mense benadeel word nie.

In ’n onderhoud met die CNBC uitsaaier in Amerika het Trump gesê hy is ook nie tevrede met die Europese Unie wat die valuta manipuleer nie.

Ekonome het intussen bevestig dat die invoerbelasting op Sjinese goedere die Sjinese se kontantvloei negatief beïnvloed en met verloop van tyd nog ’n groter invloed gaan uitoefen.

Dit is bekend dat Sjina reeds onder druk verkeer weens sy swaar vrag aan buitelandse leningskuld wat terugbetaalbaar is, en bemoeilik word weens die verslegting in sy kontantvloei.