Trump dreig Turkye met sanksies

Die Amerikaanse Wit Huis het sterk woorde geuiter en Turkye gewaarsku dat sanksies teen hulle gebruik gaan word indien hulle weier om die geestelike leier, Andrew Brunson vry te laat.

Die Turkse regering het egter getoon dat hulle nie veel erg het aan die Amerikaanse dreigement nie en gesê “niemand sal aan Turkye voorskryf wat hy moet doen nie”.

President Trump het gesê “groot en swaar sanksies” sal ingestel word indien die Turkse regering nie die geestelike vrylaat nie.

Turkye het die Christelike leier in Oktober 2016 skuldig bevind aan terreur verwante optrede, maar hom nou uit die tronk vrygelaat en onder huisarres geplaas.

President Trump het op die sosiale media geskryf dat die Christelike gesinsman en wonderlike mens onverwyld vrygelaat moet word

’n Woordvoerder van die Turkse president Erdogan sê die man kan nie net vrygelaat word terwyl hy ongehoorsaam was aan die wette van Turkye nie.

Amerika beskik oor ’n militêre basis in Turkye om sy sendings in die Midde-Ooste uit te voer, en indien sanksies teen die land ingestel word, kan dit meebring dat die Turkse regering kan beveel dat die basis gesluit word.

Vroeër het president Trump groot lof gehad vir Erdogan wat ’n besoek aan Washington gebring het, en gesê daar bestaan ’n sterk verhouding tussen die twee lande wat oor ’n lang tyd strek.

Foto – Amerikaanse Wit Huis