Spaanse konserwatiewes kies nuwe leier

Die konserwatiewe “Popular Party” in Spanje het die afgelope naweek Pablo Casado as hul nuwe leier verkies in die plek van die voormalige eerste minister, Mariano Rajoy, wat uiters ongewild geraak het onder die konserwatiewe kiesers.

Pablo Casado kan eersdaags die nuwe eerste minister van Spanje word indien ’n vervroegde algemene verkiesing gehou word..

Die verkiesing sal egter na verwagting eers op die gestelde datum in 2020 gehou word, wat hom ’n gulde geleentheid bied om intussen die party te herorganiseer.

Die voormalige leier was ook die eerste minister, maar vanweë sy party se betrokkenheid in ’n korrupsie skandaal, kon hy nie ’n mosie van wantroue oorleef in die parlement nie, en uiteindelik het die sosialiste die regering oorgeneem.

Mariano Rajoy was ook in omstredenheid gehul met sy optrede teen die separatiste van Katalonië wat met hom en sy regering in gesprek wou tree oor moontlike onafhanklikheid, maar Rajoy het enige gesprek met Puigdemont van Katalonië verwerp.

Pablo Casado het in die naweek se verkiesing te staan gekom teen die voormalige adjunkpremier van Spanje, wat beskou was as Rajoy se regterhand in die regering, en wat self ook gevoelloos opgetree het teen die leiers in Katalonië.

Foto – Pablo Casado