Patricia 1 – DA 0

Die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, het ‘n betekenisvolle oorwinning oor die DA se leiding behaal, en sy kry nou haar sin op al haar eise.

Die mosie van wantroue wat die DA teen haar wou ingestel het, is ter elfder ure teruggetrek. Dit was De lille se eerste oorwinning.

Dit het egter plaasgevind nadat sy en die DA ‘n ooreenkoms bereik het,

In terme van die ooreenkoms gaan sy ‘n tugverhoor kry, wat oop vir die publiek sal wees, soos sy voorheen geëis het en waarvoor die DA nie kans gesien het nie.

Die datum van die tugverhoor is nog nie bepaal nie, maar waarnemers voorspel dat dit ‘n interessante gebeurtenis gaan wees waarvan die DA nie noodwendig gaan hou nie, aangesien verwag word dat De Lille heelwat skietgoed teen die DA se leierskap daar gaan afvuur.

Die onverkwiklikheid van die geskil tussen die DA en De Lille, het dié party al heelwat stemme gekos, en daar word verwag dat die komende tugverhoor die spyker in die DA se doodskis gaan wees in Kaapstad en die Wes-Kaap, en dat dit sal uitrimpel na ander dele van die land. Die DA het sopas sy burgemeester in Vredendal verloor, asook ‘n setel in Warmbad aan die ANC afgestaan.