Onverwagse steun vir Le Pen

Die prominente en soms omstrede politieke leier van die Franse Front Nasionaal, Marine Le Pen het onverwagse finansiële steun gekry na haar waarskuwing dat haar party kan ontbind weens die hofbeslissing teen die party.

Die nasionalistiese party het ’n swaar nederlaag gely toe die hof beslis het dat die party 300 000 euro moet terugbetaal aan die Europese Unie.

Front Nasionaal, waarvan die naam intussen verander het na Frankryk Nasionaal se leier, Marina Le Pen het bekendgemaak dat die hof beslis het om die €2 miljoen te vries wat aan die party uitbetaal moes word as deel van die staat se bydrae wat gemaak word aan elke politieke party.

Le Pen is daarvan beskuldig dat sy fondse van die Europese Parlement ontvang het vir salarisse wat aan ’n werknemer betaal moes word, maar wat nie in haar diens was nie.

Die terughouding van die subsidie beteken dat die party nie sy salarisse aan werknemers kan betaal nie, wat haar die waarskuwing laat rig het dat die party moontlik sy deure sal moet sluit.

Die party het verwag om sowat €4,5 miljoen aan subsidie te ontvang, en die hof se beslissing maak voortgang feitlik onmoontlik, het sy gesê.

In gevolge die Franse Verkiesingswet word alle partye gesubsidieer, en gedurende die verkiesing van Mei 2017 het Le Pen en talle van haar party se kandidate oorwinnings behaal.

Talle invloedryke politici het egter ondersteuning gegee aan Le Pen en gesê dit is verbreking van die demokratiese regte van ’n party om sy fondse te vries soos wat deur die hof beslis is.

Selfs die leier van die Sosialiste, Olivier Faure, het gesê die beslissing is ’n ondemokratiese besluit wat onaanvaarbaar is.

Kort na die uitsprake van verskeie politieke leiers, het Le Pen begin met ’n aanlyn fondsinsameling, en op die eerste ses uur daarvan reeds meer as $1 miljoen ontvang.

Foto – Marine Le Pen