Ontmoeting tussen Trump en Poetin beplan

Moskou en Washington is reeds besig om met mekaar te skakel ten einde ’n ontmoeting tussen president Donald Trump van Amerika en die Russiese president, Vladimir Poetin, te reël.

Die nuus is deur die Kremlin vrygestel nadat die Amerikaanse Veiligheidsadviseur, John Bolton, in die Russiese hoofstad was.

’n Konferensie word beplan wat in ’n derde land aangebied sal word, en die Oostenrykse hoofstad kan as moontlike gasheer gesien word nadat president Poetin ’n besoek gebring het by die land se kanselier, Sebastian Kurz.

President Poetin het aan die media gesê hy sien uit na ’n amptelike ontmoeting met die VSA se staatshoof nadat talle misverstande en verwyte na mekaar geslinger is.

Poetin het aan die Amerikaanse afgevaardigde in Moskou gesê die politieke stryd in die VSA presidentsverkiesing het gelei tot swak verhoudinge maar hy hoop die nuwe inisiatief lei tot die herstel van wedersydse vertroue al bestaan daar verskille van mekaar se sienswyse.

President Trump het die eerste woord gespreek van beter verhoudinge toe hy gesê het Rusland behoort weer toegelaat te word in die G7 beraad.