Onluste op talle plekke

Winkels in die East Rand Mall in Boksburg het onder ‘n brand deurgeloop (foto).

Die oorsaak van die brand is nog nie bepaal nie, alhoewel brandstigting wel ‘n sterk vermoede is.

Die brandweerstasie is direk oorkant die winkelkompleks.

In Verwoerdburg is dele van die M57 gesluit nadat daar ook onluste uitgebreek het.  ‘n Vragmotor en ‘n bus is in die proses aan die brand gesteek, en dit het plaasgevind naby die L&J plakkerskamp.

Krotbewoners in die Chesterville omgewing het Donderdagmiddag die suidelike baan van die N2 hoofweg gesluit  en voertuie met klippe bestook, ‘n bakkie aan die brand gesteek en motoriste uit hul voertuie geruk.

Die Natalse polisie, wat twee dae gelede verklaar het dat hulle sulke optrede sal beveg, was in gevegte met die oproermakers betrokke. Daar is geen beserings aangemeld nie en die bakkie se bestuurder kon ongedeerd daarvan afkom.

Oos-Transvaalse Laeveld word ook deur oproermakers beleër, verskeie paaie is versper en toerisme kan nie by gewilde plekke uitkom nie.

Die R532 in die rigting van Graskop is versper die Blyderivierpoort, die Swadini-oord, die Drie Rondawels en die Bourke’s Luck-kolkgate kan nie bereik word nie.

Die polisie het rubberkoeëls gebruik teen die betogers, maar die betogers eis steeds dat die premier hulle kom toespreek.