Noord-Korea produseer verrykte uraan

Noord-Korea het, soos in die verlede, weer eens nie woord gehou toe hy ’n ooreenkoms met die Amerikaanse president aangegaan het in Singapoer nie.

Die Amerikaanse intelligensiediens het intussen vasgestel dat Noord-Korea in die afgelope maande in die geheim voortgegaan het met die produksie van verrykte uraan te midde van die feit dat hy verklaar het dat hy ten gunste is van ’n kernwapen vrye Suid- en Noord-Korea.

Dit is nie die eerste keer dat Noord-Korea se ondernemings nie nagekom word nie, en die huidige situasie kan lei tot ernstige konflik met die VSA.

Volgens die jongste verslae van Amerikaanse inligtingsdienste en die CIA blyk dit dat Noord-Korea ongestoord voorgaan met sy program om kernwapens te ontwikkel.

Vyf lede van die geheime diens het te kenne gegee dat Noord-Korea die produksie van verrykte uraan uitgebrei het terwyl hy op diplomatieke gebied besprekinge voer met Amerika oor die beëindiging van kernwapen ontwikkeling in die skiereiland.

Daar bestaan glo geen bewys dat Kim Jong-Un die vermindering of die staking met produksie van verrykte uraan plaasgevind het nie, het ’n woordvoerder aan NBC News gesê.

Amerikaanse kernwapen deskundiges sê Noord-Korea beskik oor die mees moderne toerusting in die kerninstallasie wat hom in staat stel om sedert 2009 reeds uraan te verryk en voorraad op te bou.

Politieke waarnemers sê die inligting het ’n demper op president Trump se entoesiasme geplaas, maar tot hede het die president geen kommentaar gelewer nie op die feit dat Noord-Korea nog steeds ’n ernstige veiligheidsbedreiging vir Amerika inhou.