Nog ‘n trein brand – terreurtoestand

Anargie het weer plaasgevind naby Muizenberg waar nog ‘n trein aan die brand gesteek is.  Vyf waens en die oorhoofse kabels is beskadig.

Treindienste van Kaapstad na Simonstad word beïnvloed en reistye word met meer as ‘n uur verleng.

Die vernietiging van treinwaens en infrastruktuur van Metrorail in Kaapstad het nou buite beheer geraak en die situasie waaraan duisende pendelaars daagliks blootgestel word, is niks anders nie as dade van terreur wat besig is om Kaapstad lam te lê.

Dit is die kommentaar van VF Plus se dr. Corné Mulder. Hy sê daar heers tans ongebreidelde anargie op dié voorstedelike vervoerstelsel met treinwaens wat aan die brand gesteek word, misdaad wat op treine floreer, infrastruktuur wat in duie stort en feitlik geen sprake meer van betroubare tydroosters nie.

Metrorail het vanaf Oktober 2016 tot en met Oktober 2017 ʼn derde van sy passasiers verloor – van 15,4 miljoen tot 10,9 miljoen – wat bloot nie meer kans sien om afhanklik te wees van ʼn onbetroubare vervoerstelsel nie. Van Metrorail se kant word gereeld beloftes van verbetering gehoor, maar niks gebeur nie.

Dr. Mulder het ook die DA-beheerde Stad Kaapstad bygekom en sê die raad kan ook nie langer net skouers optrek en sê hy bestuur nie die diens nie. “Wat hier gebeur herinner aan wat die laaste paar jaar met die waterkrisis in die Kaap gebeur het. Die DA-beheerde stad het onus op die ANC-nasionale regering oorgeskuif om die krisis op te los en het self met hande gevou gesit en toekyk hoe dit feitlik op rampspoed uitgeloop het. Dieselfde scenario is tans besig om hom rondom Metrorail af te speel.”