Motorrubriek – VW Tiguan Allspace 2.0 TSI

Die Volkswagen Tiguan het gedurende 2016 die motormark betree en dit is opmerksaam hoe gewild hierdie sportnutsvoertuig is. Waar daar beweeg word, op een of ander stadium gaan een opgemerk word.

Die Allspace het ‘n bykomende ry sitplekke wat netjies in die bagasieruimte geberg word. Die bak is op die gewilde MQB onderstel gemonteer en dit is verleng met 110 mm. Aan die agterkant is die oorhang gedeelte met 105 mm verleng en dit het tot gevolg dat die bykomende ry sitplekke gemonteer kon word. Die laaste ry sitplekke se leuning is 50:50 verdeel en wanneer dit plat gevou word verhoog die bagasieruimte na 1376 liter. M.a.w. wanneer daar byvoorbeeld ‘n toer na die wildtuin onderneem word, is dit eintlik nie nodig om ‘n sleepwaentjie saam te sleep nie. Vir die golfspelers is daar dus ook baie plek vir die sak met golfstokke.

Buite en binne in die Allspace is daar verskeie veranderinge aangebring wat dit onderskei van die gewone Tiguan waarvan die mees opmerklike verandering, is die enjinkap wat hoër uitgebou is, die sykant vensters wat groter is en die uitlaatpype aan die agterkant wat ‘n meer moderne afwerking het. Aan die binnekant is ‘n moderne uitleg opmerklik. ‘n 9,2 duim aanraakskerm is gepas en die volgende toerusting kan bykomend gepas word teen ekstra koste. Van hierdie toerusting sluit in Discover Pro satelliet navigasiestelsel, ‘n sondak ensovoorts. Die duidelik leesbare instrumente in ‘n goed uiteen gesette, instrumentpaneel is reg voor die bestuurder gemonteer en alle nodige toerusting is binne maklike bereik van die bestuurder en die voorste passasier.

Aanvanklik was daar gebruik gemaak van ‘n 1.4 TSI kragbron maar in die nuutste weergawe word ‘n vier silinder, 1984 kub. sentimeter, inlyn, turbo aangejaagde, petrol kragbron gebruik. Die krag daarvan is 132 kW teen 3940 o.p.m. en die wringkrag is 320 Nm tussen 1500 en 3950 o.p.m. Dit alles stel die voertuig instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in net onder die nege sekondes terwyl die topsnelheid 208 km/u is. Volgens die vervaardiger is die brandstofverbruik 7,7 l/100 km. ‘n Sewespoed, dubbel koppelaar ratkas sorg dat die krag oorbrenging wanneer nodig van die enjin na al vier wiele seepglad plaasvind. Die oorskakeling kan beswaarlik waargeneem word so glad vind dit plaas en selfs wanneer dit terugskakel, kan dit nie sommer waargeneem word nie.

Die remme verrig ‘n baie goeie taak en na verneem word stel dit die Tiguan in staat om binne 2,87 sekondes vanaf 100 km/u tot stilstand te kom.

Tydens toetse wat met die voertuig uitgevoer is op die hoofpaaie en selfs op grondpaaie, was die gedrag van hoogstaande gehalte en hierdie is ‘n voertuig vir die fynproewer.

Dit is een van my persoonlike keuses en voornemende kopers kan gerus u naaste Volkswagen handelaar besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.