Motorrubriek – Toyota Rush S 1.5

Toyota is bekend daarvoor dat hulle die spreekwoordelike “haas uit die hoed” trek wanneer dit die minste verwag word.


Die Daihatsu Terios is ‘n vol filiaal van Toyota en Toyota het dit goed gedink om die Terios se naam te verander na Toyota Rush. Die Terios was en is nog steeds ‘n baie gewilde sportnuts voertuig in SA. Dit is inderwaarheid ‘n opregte klein 4×4 parmant en dit het nog altyd baie goeie diens gelewer – op die oop pad sowel as op ruwe terrein.

Die eerste Terios is ongeveer 21 jaar gelede in SA bekendgestel en het deur die jare baie goeie diens gelewer. Aanvanklik was dit beskikbaar met ‘n 1,3 liter enjin en het dit 64 kW beskikbaar gestel met wringkrag van 120 Nm. Gedurende 2006 is die 1,5 liter kragbron gepas en was daar 77 kW krag en wringkrag van 140 Nm beskikbaar en jy kon kies tussen ‘n 4×2 en ‘n 4×4 weergawe met kort of lang asafstand wiel basis.

In ander dele van die wereld was die Terios beskikbaar as ‘n Toyota Rush en die voertuig wat nou in SA beskikbaar gestel word, is ‘n heel nuwe voertuig. Die oorspronklike voertuig se noodwiel was aan die buitekant aan die agter deur gemonteer en waar die agterdeur na die kant oopgemaak het, maak dit nou van onder na bo oop terwyl die noodwiel onder binne in die bak agter gemonteer is. Die nuutste weergawe is slegs in lang afstand wielbasis beskikbaar en dit het tot gevolg dat die laairuimte ‘n handige 609 liter groot is. Dit is selfs meer as die Toyota RAV wat se laairuimte 547 liter is.

Die tweede ry sitplekke kan vorentoe en agter toe geskuif word indien meer beenruimte benodig word vir die agterste passasiers. Die kopstutte is verstelbaar sodat gerieflike sitposisie ingeneem kan word.

Van die toerusting wat gepas is sluit in ‘n aanraakskerm, tru kamera, afstand parkeer toerusting, lugversorger, vier lugsakke vir beter veiligheid, voertuig stabiliteit beheer, ABS remme, radio, ‘n drie-speek leer bedekte stuurwiel ensovoorts.

Aan die buitekant sorg die sierlike lyne wat van die agterligte na die voorwiel loop dat die bakwerk stewig en solied is. Die agterligte gaan om die hoek van die bakwerk endit verseker dat die voertuig duidelik sigbaar is van die kant af. Die sykant, buite prentjie word afgerond met allooi wielnawe en die grondvry hoogte is 600 mm.

Aan die voorkant sorg LED hoofligte dat wanneer ‘n rit in die nag aangepak word, is die pad duidelik sigbaar. Kolligte is aan die onderkant van die sierrooster gepas en dit verbeter die beligting verder. Die bekende Toyota embleem in die middel van die sierrooster verseker dat daar geen twyfel bestaan wat se voertuig dit is nie.

Ongelukkig is die Rush op die oomblik slegs beskikbaar as ‘n 4×2 maar die moontlikheid is nie uitgesluit dat dit op ‘n later stadium in 4×4 beskikbaar kan wees nie. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en die vier silinder, sestien klep, dubbel oorhoofse nokas, inlyn, petrol kragbron voorsien 77 kW @ 60000 o.p.m. en 136 Nm @ 4200 o.p.m. Die vyfspoed handratkas skakel seepglad oor en dit is ook met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Daar word met min moeite met opdraandes klaargespeel en hierdie is inderdaad ‘n voertuig om mee besoek te gaan aflê in die wildtuin.

Indien u in die mark is vir ‘n sportnuts voertuig, kan u gerus die Rush deel maak van u inkopielys en dit vir ‘n toetsrit neem. Dit kan vir die lang pad gebruik word en moeder kan dit gebruik om die kinders na en van die skool te vervoer.