Motorrubriek – Ford Mustang

Die Ford Mustang was nog en sal altyd ‘n baie gewilde motor wees. Wat klink nou beter as die gebrul van ‘n Mustang se V8. Dit het sy eie besonderse klank en ‘n ware Ford Mustang liefhebber sal dit kan identifiseer sonder om die voertuig te sien nie. Dit gee ‘n mens hoendervleis en as jy nie self die eienaar is nie, is dit jou hartsbegeerte om een te kan besit.

Ford SA beoog om die nuutste weergawe na SA te bring gedurende 2019. Volgens inligting is die motor toegerus met ‘n tien spoed outomatiese ratkas en die werkverrigting is van hoogstaande gehalte. Die 4951 kub. sentimeter, V8 kragbron voorsien 331 kW en die wringkrag is 458 Nm. Die aandrywing geskied d.m.v. die agterwiele en ‘n mens kan jou maar net indink wat sal gebeur as al die perde ingespan word – letterlik en figuurlik. Na berig word versnel dit van 0 tot 100km/u in 4,3 sekondes en die topsnelheid is 250 km/u.

Ander veranderings sluit in die veerstelsel wat gewysig is, die binne afwerking wat aangepas is, die veiligheids aspek wat aangespreek is ensovoorts. Daar kan ‘n keuse uitgeoefen word van die sitplekke wat gepas moet word. Dit is of ren-sitplekke of gewone sitplekke wat met gerief om ‘n mens se lyf vou. Voor langs is daar baie sitplek maar soos verwag kan word is dit vir die agterste passasiers maar taamlik beknop.

Met die sierlike buitelyne is daar nie gepeuter nie maar nuwe LED hoofligte en agterligte is gepas. Bykomende luginlate is op die masjienkap gepas en sensors met rem aanpassing om te voorkom dat voetgangers in ‘n botsing betrokke is maak deel uit van die veiligheids toerusting. Om daardie kenmerkende V8 dreuning so bietjie te demp is daar ook toerusting ingebou om die “brul” so effe te demp. Op die sierrooster verskyn die bekende Mustang embleem nog steeds met sy hardlopende profiel. Sonder dit sal dit nie ‘n Mustang wees nie.

Binne in die kajuit is veranderings aangebring met nuwe materiale wat gebruik word en digitale instrumente rond die prentjie ewe netjies af.

Wat die veerstelsel betref is die gebruik van MagneRide skokbrekers ingespan om die padhouvermoë en ry gerief te verbeter. Hierdie toerusting lees die toestand van die pad en is instaat om dit 1000 keer per sekonde te lees en aan te pas.

Mustang liefhebbers kan uitsien na ‘n baie interessante voertuig en dit gaan beslis die moeite werd wees om een te besit. Ai tog, daardie V8 klank!