Malta aanvaar 230 onwettige immigrante

Na dae op die oop see, het onderhandelings geslaag toe Malta ingestem het om 234 onwettige immigrante te akkommodeer wat deur die Lifeline skip opgepik is.

Die skip met die immigrante uit Afrika het vir ’n week lank van een hawe na die ander gevaar in die hoop om ’n hawe te vind waar die onwettige immigrante afgelaai kon word.

Die vaartuig wat deur ’n Duitse liefdadigheidsorganisasie gebruik word, is die tweede skip met onwettige immigrante wat nie ’n aflaaiplek kon vind nie.

Dit volg nadat die nasionalistiese regering wat enkele weke gelede aan bewind gekom het, die sogenaamde immigrante nie wou ontvang nie.

Italië sê hulle land is nie ’n kamp vir asielsoekers en onwettige immigrante nie, en die lande wat ten gunste van sulke mense is, moet hulle ontvang en versorg.

Intussen is verneem dat agt Europese lande ingewillig het om die mense uit Afrika te ontvang na afloop van ’n vergadering oor die krisis.

Duitsland het nie aangebied om te help nie vanweë die ernstige verdeeldheid oor immigrante wat tans in die Merkel-koalisie ondervind word.

Die vorige regering van Italië het toegelaat dat 650 000 onwettige immigrante in sy hawens afklim, maar die nuwe regering het gesê daar bestaan geen rede waarom dit moet voortgaan nie, en weier elke vrag immigrante wat Italië wil aandoen.