Katalonië se vryheidstryd duur voort

Die nuut verkose president van Katalonië, ’n deelstaat van Spanje, het met nuwe inisiatiewe begin om die vryheidstryd van die welvarende gebied voort te sit.

President Quin Torra sê hy het ’n sterk mandaat om ’n volgende referendum vir onafhanklikheid te hou.

Hy het die opmerking gemaak tydens sy besoek aan Skotland waar hy samesprekings gehou het met die Skotse eerste minister, Nicola Sturgeon, wat self ook ten gunste is van Skotland se onafhanklikheid.

President Torra is bekend daarvoor dat hy ’n sterk gevoel het vir die onafhanklikheid van Katalonië wat vroeër deur Carles Puigdemont na onafhanklikheid wou lei maar deur die vorige regering van Spanje gestop is.

Waarnemers wys daarop dat die Kataloniese regering se strewe na selfbeskikking weer kan lei tot ernstige konflik met die Spaanse regering wat selfs nie bereid is om  oor die moontlikheid van afskeiding te onderhandel nie.

Quin Torra het vroeër gesê die Skotse model van onafhanklikheid is navolgenswaardig en die wêreld behoort daarvan kennis te neem.

In ’n opname wat die afgelope week in Katalonië gedoen is, het 80% van die deelnemers hulle ten gunste van ’n nuwe bedeling uitgespreek.

Foto –  Quin Torra