Kanselier Merkel steeds onder groot druk

Die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, verkeer steeds onder hewige druk, en die spanning in haar koalisieregering is besig om ondraaglik te word.

In haar toespraak in die parlement, het Merkel gepoog om beter toeligting te bied oor hoe immigrante se toelating bestuur gaan word en watter maatreëls in plek gestel sal word om grensbeheer toe te pas.

Alhoewel dit op die oog af rustig voorgekom het, was dit tog duidelik dat daar spanning in die koalisieregering is, veral nadat die minister van binnelandse sake enkele dae tevore gedreig het om te bedank.

Sy het bevestig dat veel strenger beheermaatreëls ingestel gaan word om grense te beveilig en gesprekke sal gevoer word met leiers in Afrika wat kan meebring dat immigrante na “reddingskampe” mag gaan wat in Afrika lande ingerig sal word.

In die debat wat daarop gevolg het, was die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland heel eerste om kanselier Merkel te versoek om haar chaotiese koalisieregering te verlaat.

Die koalisieregering se samestelling van konserwatisme en sosialisme is egter Merkel se grootste knelpunt aangesien die verskille oor immigrasie tot interne spanning lei wat die gevaar inhou om later uitmekaar te spat.

Foto – Kanselier Angela Merkel