Italiaanse regering wantrou Merkel

Dit wil voorkom asof die nasionalistiese Italiaanse regering nie baie vertroue het in Angela Merkel se koalisieregering van Duitsland met betrekking tot immigrasie en grensbeheer nie.

Die Duitse minister van binnelandse sake, Horst Seehofer, het gesê hy was oortuig daarvan dat Berlyn en Rome ’n ooreenkoms sou kon bereik om immigrante terug te stuur teen die einde van Julie.

Die Italiaanse regering sê egter hulle vereis ’n wyer Europese Unie grensbeveiliging waaroor eers ooreengekom moet word.

Die immigrante wat Duitsland aan Italië wil terugstuur, het nie byval gevind by die nasionaliste nie, en dit duidelik gemaak dat hulle geen onwettige immigrante sal wil ontvang nie.

Horst Seehofer het in Oostenryk vergader met die afvaardiging uit Italië maar kon nie tot ’n vergelyk kom alvorens die Italiaanse eis oor beter grensbeheer nie in werking is nie.

Die regse leier van die Italiaanse Liga wat deel vorm van die koalisieregering is bekend daarvoor dat hy geen toegewings sal maak oor die toelating van onwettige immigrante na sy land nie, en het verskeie kere reeds skerp uitlatings gemaak oor die vreemdelinge wat na Europa wil kom onder die dekmantel as vlugtelinge wat asiel soek.

Foto – Horst Seehofer