Hongarye kap na Duitse immigrasiebeleid

Die gewilde eerste minister van Hongarye, Viktor Orban, het in ’n onderhoud gesê hy sal sonder werk sit as hy die immigrasiebeleid van kanselier Angela Merkel moet toepas in sy land.

Hy het ook gevra dat die Europese Kommissie met nuwe leiers beklee word wat ’n vars en werkbare immigrasiebeleid sal instel vir lidlande.

Premier Orban het ’n eksklusiewe onderhoud toegestaan aan een van Duitsland se mees gesaghebbende tydskrifte, waarin hy ’n aantal punte oor immigrasie na Europa uitgewys het.

Hy het nie gehuiwer om op die gevaar van onbeheerde instroming van vreemdelinge na Europa te wys nie, en kanselier Merkel se oop deur benadering sterk gekritiseer.

Viktor Orban is waarskynlik die sterkste opponent van die Europese Unie se immigrasie beleid en sê dit is nie die taak van die EU alleen om immigrasie beleid te maak nie, maar wel die taak van elke lidland om te verseker dat sy land nie oorstroom word van vreemdelinge nie.

Hy wys daarop dat die EU sedert 2015 die immigrasie krisis alleen wou hanteer, en dit het klaaglik misluk.

Hongarye en sy buurland, Pole, is eendragtig oor die aangeleentheid en weier om enige immigrante, afkomstig uit Italië te huisves, en het daarmee ook ander kleiner state tot dieselfde optrede gelei.

Intussen het Italië ook ’n nasionalistiese regering gekry wat summier weier om onwettige immigrante te ontvang, en moes Spanje en Frankryk gesamentlik planne beraam om honderde immigrante uit Afrika lande te huisves.

Foto – Premier Viktor Orban