Honderde onwettiges stroom na Spanje

Met Spanje se aanvanklike aankondiging dat hy bereid is om die skeepvrag onwettige immigrante te ontvang wat deur Italië geweier is, het die land met ’n nuwe krisis te doen wat waarskynlik nie voorsien is nie.

Die Spaanse Maritieme Reddingsdiens het kort daarna sowat 400 onwettige immigrante opgepik in die Middellandse See wat vanaf Noord Afrika afkomstig is.

Die reddingsaksie is uitgevoer terwyl die see besonder stil was, wat talle vrae in Spanje laat ontstaan het oor die werklike rede vir die reddingswerk.

Die reddingsaksie bring nou die totaal op 1 800 onwettige immigrante wat in die see opgepik en na Spanje gebring is in die afgelope vier dae.

Die immigrante is afkomstig uit verskillende Afrikalande, en die kommer bestaan dat die mensesmokkelaars nou meer mense na Europa sal stuur deur hulle na Spanje te neem wat aansienlik makliker is en minder reiskoste inhou.

Die Spaanse Rooikruis beweging is ook behulpsaam om die Maritieme Reddingsdiens by te staan, en sê hulle sorg dat die immigrante in goeie gesondheid verkeer wanneer hulle aan land kom.