Hervestiging van renosters misluk

Die regering in Kenia het bevestig sat minstens agt swart renosters dood is wat veronderstel is om ’n hervestiging te wees om hulle te beskerm.

Die renosters is dood tydens die oorplasing na ’n ander gebied, en is klaarblyklik nie behoorlik versorg tydens die vervoer na die nuwe terrein nie.

Swart renosters is van die mees bedreigde diere ter wêreld, en die 5 000 wat wêreldwyd nog bestaan word in die meeste gevalle goed bewaak, maar in Kenia het die oorplasing swak verloop.

Die diere is vanaf Nairobi vervoer na ’n nuwe park in die suide van die land, maar deskundiges beweer dat die diere uiters swak hanteer is tydens die oorplasing, en dat dit hulle dood veroorsaak het.

Die minister van Toerisme en Wildlewe het beveel dat die Kenia Wildlewe Diens die oorplasing van renosters onmiddellik staak as gevolg van die onkundige bestuur.

Die renosters wat wel lewendig oorgeplaas is, se toestand word nougeset dopgehou om enige verdere verliese te voorkom.

Intussen is beweer dat die diere te veel blootgestel was aan soutwater om hulle dors te les, maar ondersoekers is besig om die oorsaak vir die vrektes vas te stel.