Duisende pensioenarisse sterf in armoede

Terwyl die klasaksie-geding van Transnet-pensioenarisse teen die staat jaar na jaar met regsprosesse uitgetrek word, leef ʼn groot aantal van die mense in haglike omstandighede en in die laaste 60 maande sedert die geding ʼn aanvang geneem het, reeds byna 21 000 pensioenarisse en hul gades gesterf teen 334 per maand.

Hierdie skokkende syfers het aan die lig gekom in antwoord op geskrewe parlementêre vrae van die VF Plus aan die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan.

Die feit dat die pensioenarisse van alle rasse  in sulke hoë getalle afsterf weens armlastigheid, stres, siekte en selfs selfmoord, wys op die morele verpligting wat op Transnet en die staat rus om onmiddellike verligting te bring, sê adv. Anton Alberts van VF Plus.

“Meer en meer pensioenarisse kontak die VF Plus feitlik daagliks en kla dat hulle self nie eens meer brood kan bekostig nie. Baie, wat weens lewenslange bydraes tot ʼn pensioenfonds ʼn gerieflike aftrede moes hê, leef as armlastiges op straat en talle het al selfmoord gepleeg weens hul omstandighede.

“Hierdie skande moet nou tot ‘n einde gebring word en Transnet moet optree om ‘n billike skikking spoedig te finaliseer in die hangende groepsgeding,” sê adv. Alberts.

Die VF Plus is wel dankbaar dat minister Gordhan nou persoonlik in die saak ingryp nadat adv. Alberts die dringendheid daarvan onder sy aandag gebring het.

Een van die leiersfigure in die pensioenarisse se stryd, me. Bettie van der Merwe van Pretoria, het die voortslepende onregverdigheid goed raakgevat deur te sê dit is opvallend hoe gou VBS-bank finansiële verligting gekry het terwyl die pensioenarisse ongeag hul hoë ouderdom, moet voortsukkel.

Die VF Plus sê hy sal voortgaan om op ‘n dringende basis met die regering te skakel ten einde hierdie onmenslikheid tot ʼn einde te bring en om broodnodige verligting moontlik te maak.