Data uit VF Plus egpaar se huis gesteel

ʼn Parlementslid van die VF Plus, mnr. Wouter Wessels en sy eggenote, mev. Tammy Wessels (foto), lid van die Vrystaatse wetgewer, is Woensdagaand in hul huis in Bloemfontein beroof. Die vermoede bestaan dat die doel van die rooftog was om data te bekom wat inkriminerend teen sekere persone kan wees.

ʼn Onbekende aantal rowers het toegang tot die huis verkry deur vermoedelik ʼn middel te gebruik wat die Wessels-egpaar hul bewussyn laat verloor het.

Die egpaar is van hul selfone, skootrekenaars en hardeskywe beroof, waarvan sommige items later in ‘n oop veld in die stad gevind is.

Die VF Plus sluit die moontlikheid nie uit dat die rooftog polities gemotiveerd kan wees nie aangesien dit wil voorkom of slegs toerusting wat belangrike dokumente en data stoor, gesteel is.

Hierdie moontlikheid word versterk deur die feit dat die voorval plaasgevind het slegs ‘n week nadat mev. Wessels ‘n klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien het oor moontlike tenderbedrog in die Vrystaat.

In nog ʼn voorval in Februarie vanjaar is dokumente gesteel uit die huis van die Vrystaatse LUR vir Finansies, me. Elsabé Rockman.

Wanneer politici beroof word van toerusting wat inligting van openbare belang bevat, word die oorsigrol van openbare ampsbekleërs aangetas.

Rooftogte by woonhuise is een van die sogenaamde trio-misdade in Suid-Afrika wat wyd algemeen voorkom en een wat die meeste deur gewone landsburgers gevrees word. Hierdie soort misdaad raak almal in die land en die regering bied geen werkbare oplossing om dit te bekamp nie, sê VF Plus in ‘n verklaring.