Bosbrande eis lewens in Kalifornië

Terwyl derduisende mense moes wegvlug vir die verwoestende bosbrand in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, poog sowat 3 500 mense om die brande te blus.

Meer as 5 000 geboue, waarvan die grootste deel woonhuise is, word bedreig, en baie wonings het reeds in die slag gebly.

Noord-Kalifornië gaan gebuk onder ’n erge hittegolf en windsterkte van tot 100 kilometer per uur bemoeilik die stryd teen die geweldige vlamme.

Minstens twee brandweermanne het omgekom en talle het beserings opgedoen, maar die brandweer woordvoerder sê alhoewel groot dele se brande geblus is, word baie brande nog op verskillende plekke bestry.

Hy sê die vuur het in omvang verdubbel in ’n gebied van sowat 350 vierkante kilometer, maar duisende hektaar is reeds verwoes deur die vlamme wat aangejaag word deur ’n sterk wind.

Intussen is helikopters ingespan om te help keer dat daar nie nog woonplekke vernietig word nie.

In ’n latere berig wat ontvang is, word gemeld dat ’n ouma en twee kleinkinders ook omgekom het in die brande.

In die plattelandse dorp Redding wat naby die Sacramento rivier geleë is, moes die 380 000 inwoners die gebied verlaat in opdrag van die owerheid.