Bosbrand: Griekeland sterftes styg

Die verwoestende veldbrande in Griekeland, te midde van versengende hittegolwe, het die dodetal laat styg tot 81 mense, en ’n reuse soektog is aan die gang om vermiste mense te probeer vind.

Die regering se woordvoerder sê daar is soekgeselskappe wat naarstigtelik soek na meer as 40 mense wat steeds vermis word, en vrees bestaan dat die dodetal verder kan styg.

’n Afsonderlike groep het besluit om van deur tot deur te gaan in die hoop om van die vermistes te vind, en deskundiges het gewaarsku dat dit ’n uitdaging gaan wees om die oorledenes te identifiseer.

Families het ook begin om foto’s op die sosiale netwerk te plaas van mense wat vermis word, en duisende Grieke is daardeur geïnspireer om te help met die soektog.

Die brande word beskryf as die ergste wat Griekeland gehad het in die afgelope vyf dekades, en die verliese wat daarmee gepaard gaan is onberekenbaar.

Dosyne motorvoertuie het uitgebrand, en baie vakansiehuise het tot op die grond afgebrand, terwyl water- en kommunikasiestrukture ook beskadig is.

’n Woordvoerder van die brandbestryders sê hulle is bekommerd dat die vermiste mense ook omgekom het en die dodetal na vêr meer as 100 kan styg.

Intussen sal die owerhede voortgaan met ’n intensiewe ondersoek om vas te stel wat die vernietigende brande veroorsaak het.