VSA verhoog invoertariewe teen Sjina

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die Sjinese gewaarsku dat hy die invoertariewe teen die kommunistiese land verder gaan verhoog.

Daarmee word die vrees versterk dat die handelsoorlog werklikheid word tussen Amerika en Sjina, en dat die spanning tussen die twee moondhede sal toeneem.

Die president sê as Sjina voortgaan om die VSA te beskuldig daarvan dat hy Sjina afdreig, kan die VSA weer sanksies teen hulle instel.

Trump het daarop gewys dat hy ’n mikpunt gestel het van $200 miljard se invoere, maar het nou gewaarsku dat die belastings op Sjinese uitvoere na die VSA verder verhoog indien Sjina steeds wil voortgaan om weerstand te bied.

Die Sjinese aandelemark en die waarde van die geldeenheid het skerp gedaal in reaksie op die aankondiging van president Trump.

Kenners wys daarop dat die handelsoorlog slegs in ’n beginstadium is, en dat dit kan lei tot ’n ernstige insinking in die Sjinese vervaardigingsektor.