VSA beplan tentekampe vir immigrante

Die Amerikaanse vloot het aangekondig dat hy beplan om tentekampe in te rig waar die duisende onwettige immigrante gehuisves kan word.

Die optrede blyk in lyn te wees met president Trump se beleid oor die hantering van onwettige immigrante in Amerika, wat hoofsaaklik afkomstig is uit Meksiko.

Die voorlopige beplanning is dat kampe in die deelstate Alabama, Arizona en Kalifornië opgerig gaan word om meer as 120 000 onwettige immigrante aan te hou.

Volgens die vloot se beraamde koste, sal die projek sowat $235 miljoen beloop om 25 000 mense te huisves.

President Trump was verlede week in die spervuur toe die media berig het dat immigrante se kinders geskei is van hulle ouers en in afsonderlike plekke aangehou word.