Verdeelde Europa kan Merkel kelder

Die Duitse Bondskanselier Angela Merkel het in die afgelope weke hard probeer om haar benadering oor die hantering en bestuur van onwettige immigrante op ander Europese lande af te druk, maar sy kon nie hond haaraf maak nie.

Die uitkoms was duidelik nie ten gunste van haar beleid nie, en dit kan uiteindelik die einde van haar leierskap as kanselier beteken, terwyl dit nou reeds duidelik is dat sy nie daarin slaag om haar verlore aansien as prominente leier in Europa te herwin nie.

Sy ondervind nie net teenstand uit verskeie Balkanlande en Oostenryk asook Italië nie, maar sit oorhoops met haar jarelange politieke bondgenoot in Bavaria wat nou eerder saamstem met Oostenryk oor onwettige immigrante.

Merkel se Christen Demokratiese Unie (CDU) het nie net interne verskille oor vreemdelinge nie, maar moet ook probeer om die vêr linkse Sosialiste in haar koalisie regering tevrede te hou, terwyl sy gevaar loop om haar getrouste bondgenoot, die Christen Sosiale Unie (CSU) van Bavaria te verloor.

Die konserwatiewe Bavaria eis dat die immigrante en asielsoekers teruggestuur word na hulle land van herkoms, en dit bots lynreg met Merkel se benadering om hulle te huisves.

Haar oop deur beleid het veroorsaak dat die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland haar ondersteuners trek en sy in die algemene verkiesing nie weer ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie en toe met die linkse Sosialiste, wat haar politieke vyand is, in ’n koalisie moes gaan.

Intussen word haar aansien verder geknou met president Trump se dreigement om Duitse voertuig invoere met 20% te belas, wat nie net die produksie sal beïnvloed nie, maar ook werkloosheid gaan verhoog.