Stofstorm op Mars kortwiek navorsing

 

Die navorsingsrobot wat op Mars sy werk moet doen, moes intussen gestaak word uit vrees dat die batterye nie herlaai kan word nie weens die erge stofstorm wat tans daar heers.

Die robot “Opportunity” trotseer tans ’n geweldige stof- en sandstorm en Nasa was verplig om die ywerige werker tydelik te laat rus sodat die batterye nie geheel en al afloop nie.

Wetenskaplikes sê die storm gaan nog erger woed en kan vir ’n onbepaalde tyd voortduur, waartydens die robot nie sy geskeduleerde werk kan voortsit nie.

Die vermoede bestaan dat die stofstorm na drie “Mars dae” verby sal wees volgens die wetenskaplikes by die Amerikaanse Ruimtevaart Buro.

Alhoewel die ruimtevaart deskundiges bekommerd is, is hulle van mening dat die tuig so ’n storm maklik sal oorleef en weer sal kan voortgaan met sy werk.

Stofstorms op Mars word so erg dat geen sonlig deurkom nie, wat dit nadelig kan maak vir “Opportunity” omdat sy batterye nie sal herlaai nie.

Intussen word die ander sending na Mars afgewag wanneer die robot-jeep, “Curiosity” op Mars aankom, want die knaap is kernkrag aangedrewe en sal nie maklik deur storms tot stilstand gebring word nie.