Spaanse premier Rajoy bedank

Die val van die Spaanse regering word in verskeie kringe verwelkom, en die separatiste van die Spaanse deelstaat Katalonië beskou dit as hul verdiende loon weens die swak hantering van Kataloniërs wat streef na onafhanklikheid.

Spanje het ’n nuwe eerste minister, en dit kom kort nadat die Volksparty se premier, Mariano Rajoy, sy bedanking ingedien het kort voordat ’n mosie van wantroue ingedien sou word.

Pedro Sánchez, die leier van die Sosialiste, is die nuwe Spaanse eerste minister kort nadat Rajoy sy bedanking met gelaaide emosies in die parlement bekend gemaak het.

Rajoy het lank gesukkel om na die vorige verkiesing ’n regering saam te stel weens die swak vertoning van sy party toe hy nie ’n volstrekte meerderheid kon kry nie.

Die ander politieke partye het geweier om met Rajoy in ’n koalisie te gaan, en uiteindelik het hy ’n minderheidsregering gehad.

Sy ondeurdagte optrede teen die separatiste van Katalonië het hom ongewild onder sy eie mense gemaak, en toe sy party betrokke raak by ’n korrupsie skandaal, was die koeël deur die kerk vir hom as premier.

Kenners meen die sosialiste sal nie onbepaald as minderheid kan regeer nie, wat beteken die Spaanse kiesers sal weer na die stembus moet gaan.

Wanneer dit sal wees, is nie bekend nie, maar waarnemers meen dit kan in 2019 gehou word.

Foto – Pedro Sánchez