Sokkerkaartjies vir armes, krane droog

Die burgemeester van Mangaung metro-munisipaliteit (Bloemfontein, Dewetsdorp, Van Stadensrus, Wepener en Soutpan), me. Olly Mlamleli het tydens ‘n mediakonferensie aangedui dat sy gaan voorstel dat die metro tussen 1 000 en 2 000 kaartjies per Bloemfontein Celtic sokkerwedstryd aankoop om aan armes uit te deel.

Dié aankondiging het sterk reaksie uitgelok, en mev. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus raadslid, sê die ANC-regering stel slegs in korttermyn politiekery belang en die beoogde uitdeel van sokkerkaartjies sal gesien kan word as deel van die ANC se desperate verkiesingsveldtog om aan politieke mag vas te klou.

Sy wys daarop dat die metro tans gebuk gaan onder ‘n geweldige finansiële nood waar krediteure, soos Bloemwater nie betaal kan word nie en infrastruktuur verval. Mangaung word tans as die swakste metro in die land beskou en nasionale tesourie oorweeg om die metro onder administrasie te plaas.

Die metro faal om sy teikens vir dienslewering ten opsigte van watervoorsiening, sanitasie en instandhouding van paaie te bereik.

“Dit is onaanvaarbaar dat die burgemeester enigsins die koop van sokkerkaartjies oorweeg terwyl daar baie meer dringende prioriteite is. Die armes sal meer baat by infrastruktuurontwikkeling en toegang tot basiese dienste as by sokkerkaartjies,” sê mev. Snyman-van Deventer.