So word verbruikers geflous

Die huisvrou is gedurig besig om advertensies te bestudeer om moontlike winskopies raak te loop, en dit geld meestal met die aankoop van kruideniersware.

Maar is die winskopies wat as spesiale aanbiedinge geadverteer word, wel sulke winskopies?

Die Vryburger het op die spoor van spesiale aanbiedinge gaan loop en ontstellende inligting bekom wat die hele aankoop patroon beïnvloed.

’n Sekere verpakking koffie het ’n nuwe aroma, en die smaak het “verbeter”, en die koffie word nou teen ’n verlaagde prys aangebied as bekendstellings aanbod.

By nadere ondersoek is gevind die koffie is flouer, en meer koffie moet in die koppie kom om sterk genoeg te wees. Uiteindelik is vasgestel dat dit nodig is om 40% meer koffiepoeier te gebruik om dieselfde sterkte te kry.

Versigtige somme is gemaak, en is gevind dat die koffie geen besparing bied nie.

In ’n tweede geval is toiletpapier wat as spesiale aanbod geadverteer is, ook nagegaan en gevind die papier waarop geroem word vir die sagtheid, nie so sag is as die wat voorheen teen die “volprys” gekoop is nie.

’n Derde geval was getoets van piesangs wat teen ’n spesiale prys aangebied word – en die gehalte was so swak dat ons dit maar in die asdrom laat beland het.

Gevolgtrekking:

Die verbruiker wat ingestel is op gehalte, word gruwelik geflous en spesiale pryse is nie altyd ’n winskopie nie. Veel eerder is dit ’n metode om van goedere ontslae te raak wat nie aan die gewone standaard van gehalte voldoen nie.