Slowenië kry konserwatiewe regering

Die konserwatiewes in Slowenië het ’n oorwinning behaal in die naweek se algemene verkiesing wat gehou is nadat die land se eerste minister, Miro Cerar, onverwags bedank het.

Alhoewel ’n algemene verkiesing vanjaar gehou moet word, het die premier se skielike bedanking veroorsaak dat die verkiesing heelwat vroeër gehou word.

Die premier se bedanking het gevolg uit frustrasie wat veroorsaak is deur die obstruksies wat ondervind is met regeringswerke, waarvan ’n €1 miljard spoorwegprojek die belangrikste is.

Geweldige druk van konserwatiewe opposisiepartye en verskeie vakbonde het uiteindelik die deurslag gegee vir sy bedanking.

Die konserwatiewe Demokrate het sowat 24,5% van die stemme getrek, en die party wat tweede die meeste gekry het, kon slegs 12% steun monster, en sowat ses ander partye het almal minder as 10% getrek.

Die debat tydens die verkiesingsveldtog het gehandel oor onwettige immigrante, ekonomiese sake, en die Russiese bedreigings.

Die  nuutverkose regering sal eers saamgestel word na lang uitgerekte koalisiegesprekke afgehandel is, maar die verwagting is dat die konserwatiewes die sterkste koalisie kan saamstel.